© 2004 Theo Kleynhans

Donker

ek loop deur my donker huis
nadat ek jou halwe bier
in die wasbak uitgegooi
en die tafel afgedek het

ek loop deur my donker huis
terwyl die kaap storm buite
en ek wonder of jy nou met jou eks baklei –
ek wonder of het jy al ooit baklei?

ek loop deur my donker huis
en ek oortuig myself dat die tyd saam met jou
‘n duur geskenk was –
‘n indiese somer